Random Reads Blog
About Random Reads
Contact Random Reads
Search
Random House Struik
Random Reads
BLOG CATEGORIES
» Articles (40)
» Awards (8)
» Columns (26)
» Competitions (10)
» Extracts (6)
» Humour (5)
» Interviews (12)
» Recipes (19)
» Reviews (57)
» Videos (6)
BLOG ARCHIVES
» 2019 (0)
» 2018 (0)
» 2017 (0)
» 2016 (16)
» 2015 (4)
» 2014 (41)
» 2013 (53)
» 2012 (66)
REGULAR BLOGGERS
» Darrel Bristow-Bovey
» Warren Ingram
» Kobus Galloway

Die holui, die lui hos en die lae luise

Theunis Engelbrecht
Die holui, die lui hos en die lae luise

Dis net na middernag. Ek, Malletjie Malan* en Rocky Johnson* is gaar nadat ons weer ons broodkorsies in die bitter sweet van ons aanskyn as naghonde verdien het. (Ek moes byvoorbeeld nuusberigte help verpak oor mense wie se koppe in die woestyn afgekap word en kinders met wie daar as seksslawe handel gedryf word.)

Ons sit in die Admiral's Arms in 'n stad waarvan die naam nie genoem kan word nie omdat niemand mag weet waar Malletjie en Rocky hulle tans bevind nie – veral nie nou dat Papegaaislaai, die boek oor hoe hulle 'n addernes in die Afrikaanse musiekwêreld oopgekrap het, in Oktober op die rakke gaan wees nie. As julle dit lees, sal julle verstaan hoekom Malletjie en Rocky moet laaglê – baie laag moet lê.

The Waterboys se CD Dream Harder klink op uit die speakers. Die kroegvlieë lyk soos gorillas in die mis, so dik hang die rook in die plek.

"Ek is skielik spyt ek het Papegaaislaai nie eerder onder 'n skuilnaam geskryf nie," sê ek vir hulle. "Mense het al klaar begin om my 'n klomp lastige vrae te vra."

"Hahaha. Soos wat?" vra Rocky.

"Hoekom skryf jy?"

"En wat antwoord jy dan?"

"Dat ek nie die vaagste benul het nie."

Malletjie lag. "Mind you, dis nou vir jou 'n bleddie goeie vraag. Vir 'n ou soos ek, wat nie 'n skrifgeleerde is nie, is dit soos om vir 'n hairdresser te vra hoekom sy hare dress, om vir 'n slagter te vra hoekom hy skape slag, om vir 'n toordokter te vra hoekom hy dolosse gooi, om vir 'n visserman te vra hoekom hy visvang, of om vir 'n masseerder te vra of hy happy endings gee of nie."

Ons derde rondte Christian Brothers-brandewyn en Coke Zero word voor ons neergesit en ons cheers.

"Watse skuilnaam sou ek gebruik het as ek kon?" vra Malletjie.

"Dokter Boomslang," sê ek. "Dit sou nou cool gewees het. Dis jammer ek dink nou eers daaraan, noudat die drukkers al amper klaar is met die boek. Oh well."

"Watse vrae vra mense jou nog?" vra Malletjie.

"Of Papegaaislaai op werklike gebeure gegrond is. Dan sê ek ja. Daar is ook sekere mense wat my vra of daar baie seks in die boek is, waarop die antwoord ook ja is. Ek wonder altyd hoekom mense wil weet of daar baie seks in 'n boek is. Ek is ook al gevra vir wie ek skryf. Ek word nou goed gevra waaroor ek nog nooit gedink het nie, goed wat nog nooit vir my 'n issue was nie. Dan sê ek maar ek skryf vir enigiemand, dis al logiese antwoord waaraan ek kan dink. Dalk moet ek sê ek skryf vir die man op die maan, om geheime in sy ore te fluister oor goed wat ek op die aarde sien en hoor."

"Ja, dit klink goed," sê Malletjie. "Doen dit."

Ek sê ek is seker Dokter Boomslang sou seker ook moes koes vir al die vrae. Is daar 'n slang in die gras in Papegaaislaai? (Ja, baie, en hulle is giftig en seil oral rond.) Gaan die boek sekere lesers laat slange vang? (Ja.) Word daar van verbode bome geëet in die boek? (Ja – en nie net geëet nie, maar behoorlik gevréét.) Word daar geskryf oor hoë bome wat die meeste wind vang? (Ja, en ook van die honde wat hulle bene teen daai bome lig.)

"Iemand het my ook al gevra of dit waar is dat 'n baie bekende sepie-aktrise my wou verlei en 'n asma-aanval gekry het die oomblik toe sy aan my meneer vat deur my broek," sê ek.

Malletjie en Rocky maak hulle byna nat soos hulle lag, omdat hulle weet die antwoord op die vraag is 'n onomstootlike ja. (Daar is getuies ...)

"Dit wys jou net, 'n mens moet versigtig wees watse stories jy vir mense vertel, veral as dit juicy is," sê Malletjie. "Soos al daai stories in Papegaaislaai waarvan ek jou vertel het."

"Dit kan jy weer sê, ou Malletjie, dit kan jy weer sê," sê ek.

Iemand het my ook in 'n e-mail gevra watter soort karakters daar in die boek is. Ek, Malletjie en Rocky het vir hom die lys opgestel tussen ons eerste en tweede doppe. So lyk dit: 'n Fotograaf wat retrench is by 'n poniekoerant. 'n Trance DJ. Twee onervare private speurders. 'n Magtige Afrikaanse musiekbaas en impresario. Sangers en sangeresse. 'n Seniele ouma en haar troeteldiere, onder meer 'n heldersiende papegaai. Boere en kroegvlieë van die Brits-omgewing. Prossies en junkies in Hillbrow. 'n Stinkryk tandarts van Brakpan. 'n Skryfster van Afrikaanse erotiese verhale en chick lit. 'n Afgetrede grootkop van Militêre Intelligensie. 'n Joernalis van Cosmopolitan. 'n Pastoor wat glo die apokalips is op hande. Kortom: die hoëlui, die lui hoës en die lae luise.

"Dis nie eens almal nie!" sê Malletjie. "Onthou julle daai ou wat soos Austin Powers aangetrek het by die End of the World-party, daai ou wat so dronk en loops geraak het? En Beyers Eybers, daai cool misdaadverslaggewer. En daai onderwysertjie van Potchefstroom wat ons so uitgetrap het in die Blou Bul Bush Pub omdat ons nie suiwer Afrikaans praat nie?"

Malletjie en Rocky kan nog steeds nie glo wat hulle alles van 15 tot 21 Desember 2012 ervaar het en wat ek vir hulle in Papegaaislaai opgeteken het nie. Dit was soos iets uit 'n zombie-riller, sê hulle, of 'n freaky reality show. Hulle sal daai middag met die impresario en die skryfster van erotiese verhale en chick lit in Dainfern, noord van Johannesburg, ook nooit vergeet nie, hulle het hulself amper bevuil. Malletjie sê hy sal my altyd dankbaar bly omdat ek soveel moeite gedoen het om daai middag te beskryf net soos dit gebeur het. Hy bestel 'n rondte Zappa-sambucas om my ook weer eens te bedank omdat ek sy en Rocky se verhaal so onbaatsugtig verwerk en geskryf en die manuskrip so netjies getik het.

"Dis net 'n plesier, ou Malletjie," sê ek. Ons cheers en sluk die shooters. The Waterboys het nou net "The Return of Jimi Hendrix" klaar gesing en die eerste note van "Good News" klink op. Die nag begin weer toor.

*Nie hul regte name nie om hul identiteit te beskerm.

Theunis Engelbrecht se roman Papegaaislaai is in Oktober op die rakke. Meer inligting by http://www.randomstruik.co.za/books/papegaaislaai/5588.


Gallery is loading...
Notify Me:
Please enter your email below to receive / un-subscribe from new post notifications.
Email Address:

Option:
Random House Struik Newsletter
Random House Struik Competitions
Random House Struik Bookclub
Random House Struik Events Random House Struik on Facebook
Random House Struik on Twitter
Random House Struik on Pinterest
 
Random Reads
Subscribe to our RSS Feeds