Random Reads Blog
About Random Reads
Contact Random Reads
Search
Random House Struik
Random Reads
BLOG CATEGORIES
» Articles (40)
» Awards (8)
» Columns (26)
» Competitions (10)
» Extracts (6)
» Humour (5)
» Interviews (12)
» Recipes (19)
» Reviews (57)
» Videos (6)
BLOG ARCHIVES
» 2017 (0)
» 2016 (16)
» 2015 (4)
» 2014 (41)
» 2013 (53)
» 2012 (66)
REGULAR BLOGGERS
» Darrel Bristow-Bovey
» Warren Ingram
» Kobus Galloway

Die storie van Die Naaimasjiene, deel 1

Theunis Engelbrecht

Nadat Papegaaislaai in Oktober verlede jaar by Umuzi verskyn het, het mense wat agterop die boek gesien het ek was in Die Naaimasjiene my allerhande lastige vrae begin vra daaroor. Toe dink ek ek kan dit maar net sowel op hierdie blog beantwoord, dan is dit afgehandel.

Dit het alles begin toe ek op hoërskool was in die eighties. Ek het in Bethlehem in die Vrystaat gesit en gedigte geskryf en toe met die digter Johan van Wyk van Boksburg begin korrespondeer. Hy het die wonderlikste briewe oor musiek geskryf en vir my kassette gepos met musiek van mense van wie ek nog nooit gehoor het nie, soos Country Joe and The Fish, Nina Hagen, The New York Dolls, The Sex Pistols, Jonathan Richman and the Modern Lovers, Pere Ubu en Frank Zappa. Dit was oorweldigend en opwindend en het my toe lus gemaak om ook eerder songs en lirieke te skryf as stemmige gedigte.

So gesê, so gedaan. Ek het ’n cheap keyboard gehad en ’n double tape deck, en dan het ek goed opgeneem en die heeltyd ander goed oor dit bygedub. Toe ek later Johannesburg toe trek, ontmoet ek vir Catharina Scheepers, wat later baie harte sou steel as Katarina Klinknael tydens die Voëlvry-toer met haar wonderlike stage designs vir die shows. Ek dink ek het vir haar van my tapes gespeel, toe sê sy ek en sy moet ’n liedjie opneem wat gebaseer is op ’n destydse advertensie vir ’n lugverfrisser wat begin het met ’n vrou wat sê: “Gawe mense, die Jansens,” en dan sê haar man: “Net jammer dat onaangename reuke hul woning bederf.” Catharina se boyfriend in daai dae was Willem Möller (later Mr Volume op die Voëlvry-toer) en sy het gesê hy sal dit opneem. Wat toe gebeur het, met Willem wat helse kitare bygesit het.

Nie te lank daarna nie het Shifty Records begin met hulle Budgie Beat-reeks waarop hulle musiek uitgereik het wat nie mainstream was of met ’n moerse budget opgeneem is nie. Ek speel toe die tape met my songs vir Willem en vra of hy nie belangstel dat ek en hy dit opneem vir Budgie Beat nie. Ek onthou ek was nog baie skaam om dit vir Willem te speel, want dis nou nie asof ek die wêreld se beste sanger was nie en daai keyboard van my se drumbox was uitermate tos. Anyway, Lloyd Ross sê toe oukei en daar begin ek en Willem die goed record. Die eerste song wat ons gedoen het, was “Raai-raai”. Die eerste versie het gegaan: “Raai-raai, die wind waai kwaai. Raai-raai, ek wil in jou blou oë baai, jy stap windverwaai op die kaai, jy wuif ondeund en skree haai, raai-raai, is dit jy daai, ek wil jou aai, ek wil jou naai.”

In daai tyd het die smeulende, sexy sangeres Tonia Selley (wat later Karla Krimpelien was op die Voëlvry-toer en ook later met Willem getroud is) almal se koppe laat draai met haar sensuele stem en shows saam met die groep Khaki Monitor. Ek reken toe dit sou lekker wees as sy op die laaste deel van “Raai-raai” kon sing in daardie ongelooflik sexy stem van haar, dus was my vreugde onbeskryflik groot toe Willem haar oorreed het om dit te doen. Nog ’n groot eer was dat Hanepoot van Tonder tromboon gespeel het op “Kwêla vir Mandela”.

Maar die grootste voorreg was om saam met Willem te werk. Soos almal weet wat clued-up is met Suid-Afrikaanse musiek, is hy fenomenaal. Op baie van ons tracks het hy al die instrumente gespeel. Ons het die songs opgeneem in die kelder van sy huis in Yeoville. Dit was ’n klein plekkie, en die dag toe ons ’n song met die naam “Bring die sjerrie” record het, het ons byna mal geraak. Iemand het vir my ’n tape gegee wat die AWB versprei het met ’n toespraak wat Eugène Terre’Blanche by een of ander Geloftefees gehou het en ek het toe hierdie song geskryf waarop ek uittreksels uit sy speech wou indub. So toe moes ek en Willem drie uur lank na Terre’Blanche se gedonder oor die speakers luister terwyl ons die song aanmekaarsit. Toe ons na die tyd daar uitsteier, het dit gevoel of iemand ons oor die kop geslaan het. Dit was ’n baie traumatiese ervaring. Ons het toe ook ’n recording van ’n uittreksel van ’n toespraak deur PW Botha heel aan die begin van “Bring die sjerrie (dis gewis als ’n nagmerrie)” ingemix.

Ek het eendag deur ’n Huisgenoot geblaai toe is daar ’n artikel oor die Britse prins Andrew wat Randy Andy gedoop is deur die Britse poniepers, en op die volgende bladsy was daar ’n artikel oor Sylvester Stallone en sy Rambo-flieks. Toe besluit ek Randy Rambo sal ’n lekker naam wees om te gebruik. In daai jare het ’n Chris Pretorius, ’n vriend van Johan van Wyk, ’n teaterstuk gehad met die titel Die saai lewe en ek het gedink dit sal ’n lekker naam vir die Budgie Beat-recording wees. Ek het Chris nooit toestemming gevra daarvoor nie en hoop tot vandag toe hy was nie die moer in vir my daaroor nie. Anyway, ek besluit toe verder die naam moet wees Randy Rambo en die Rough Riders, en daar laat waai ons.

Die Budgie Beat-releases was net op mail order beskikbaar by Shifty en nie in die winkels nie en dit het my soos ’n handskoen gepas dat dit so low-key gedoen is, want in dieselfde tyd het ek as vermaakjoernalis by Beeld begin werk en besef dit sal beter wees om Randy Rambo en die Rough Riders so ondergronds as moontlik te hou.

’n Paar maande later val ek byna van my stoel af toe daar in die Staatskoerant aangekondig word dat die apartheidsregering se destydse Publikasieraad Die saai lewe verbied het vir besit en verspreiding. Ek kon nie glo ’n mens kon iemand verbied om iets te besit nie. Later vind ek toe uit Anneli van Rooyen se pa het dit in die hande gekry en by die Publikasieraad verkla omdat hy woedend was vir my oor die negatiewe resensies wat ek geskryf het oor die plate wat die maatskappy Decibel uitgereik het en waarvan hy ’n direksielid was. Decibel het ook sy dogter, Anneli, se plate uitgegee en ek het ook eenkeer ’n negatiewe resensie oor een van haar plate geskryf. Meneer Van Rooyen het seker ook nie gehou van die woord “naai” op Die saai lewe nie en liedjies soos “Jong Dames Dinamiek (maak my siek)” waarin ek die ouskool-Afrikaners afgerip het, “Elegie” oor die destydse noodtoestande en politieke geweld en “Kwêla vir Mandela” nie.

Ek het besef dit was baie riskant en gevaarlik om in daardie dae twee hoede te dra as ’n vermaakjoernalis en iemand wat self ook liedjies geskryf en opgeneem het, en het besluit dat Die saai lewe net ’n one-off sou bly. In daardie selfde tyd het Ralph Rabie en André Letoit shows gehou by die Black Sun in Berea en ek het gaan kyk en was weggeblaas. Ek het toe oor hulle geskryf vir die koerant en later ook oor die hele Voëlvry-beweging. En toe op ’n dag hoor ek Willem Wepener, die destydse redakteur van Beeld, het ’n brief van PW Botha gekry waarin hy kla omdat ek in sulke gunstige terme geskryf het oor Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis, soos hulle toe bekend gestaan het, en dat Wepener my moet afdank. Gelukkig het Wepener vir PW in sy moer gestuur.

’n Ruk later vra iemand my toe of Randy Rambo en Die Rough Riders nie by die eerste Houtstok-musiekfees wil optree nie. Ek wou nooit regtig live gaan daarmee nie, maar ek is oorreed en het ’n band bymekaar gekry. By Houtstok was daar toe chaos, want die program het oortyd geloop en ons het toe nooit daar opgetree nie, wat ’n bedekte seën was, want my keyboard was toe al flenters en het sommer begin om vanself uit te sny en ek het nie geld gehad om dit te laat regmaak nie, en daarna het almal in die band toe hul eie pad gegaan sonder dat ons een keer opgetree het.

Twee jaar later word ek weer omgepraat om Randy Rambo en die Rough Riders by Houtstok 2 te laat optree. Dit is gehou op dieselfde dag as wat die destydse jaarlikse FAK-musiekfees by die Voortrekkermonument gehou is waar die kunstenaars gemime en met backtracks gesing het. Dit was kort nadat FW de Klerk aangekondig het dat die ou Suid-Afrika sy gat gesien het en ek was lus om ape shit te gaan. Een aand sit ek toe by die legendariese restaurant Ciro’s in Brixton en sê vir een van die kelners, my goeie vriend Earle Holmes, dat ek nou hierdie show moet doen en nog nie ’n band het nie. Op daardie oomblik klim daar ’n ou met sulke laaaaang hare uit ’n geel Volksie oorkant die straat en Earle sê vir my: daar is jou antwoord, daai ou se naam is Tim Thompson en hy speel kitaar, en Earle stel ons toe aan mekaar voor. Tim bel toe ouens wat hy ken wat in ’n metal band in die Oos-Rand was, hulle ouers was almal immigrante en hulle het nie ’n woord Afrikaans verstaan nie. Hulle was shit hot en het almal sulke laaaang hare gehad en die meisies het gekwyl oor die brute seksualiteit wat hulle uitgestraal het.

Ek het ook besluit ons moet ’n klomp backing vocalists en dansers op die stage hê wat ons Die Yskasterte gedoop het. Ons was toe soos in twaalf mense in die groep. Ek het vir Die Yskasterte gesê hulle kan doen net wat hulle wil, solank hulle net mal gaan. Een van hulle, Gogga Goosen, het toe gesê hy wil voor ons show by Houtstok ’n draai gaan maak by die FAK-musiekfees by die Voortrekkermonument en ’n bietjie gaan kak aanjaag daar. En omdat niemand toe geweet het wie Die Naaimasjiene en Die Yskasterte is nie, het ons in die vooraf-publisiteit vir Houtstok 2 gejok en gesê ons is ’n klomp studente van die Potchefstroomse Universiteit en is die alternatiewe Alabama-studentegeselskap en spesiaal ’n liedjie geskryf wat daarmee saamgaan, “Ons drink Scotch op wilde Potch”. Intussen het Die Naaimasjiene hard begin rehearse en het Die Yskasterte hulle outfits bymekaar begin kry, wat onder meer safaripakke en S&M-uitrustings ingesluit het.

En so is die tafel gedek vir ’n Vreeslike Affêre …

Word vervolg.


Gallery is loading...
Notify Me:
Please enter your email below to receive / un-subscribe from new post notifications.
Email Address:

Option:
Random House Struik Newsletter
Random House Struik Competitions
Random House Struik Bookclub
Random House Struik Events Random House Struik on Facebook
Random House Struik on Twitter
Random House Struik on Pinterest
 
Random Reads
Subscribe to our RSS Feeds