Random Reads Blog
About Random Reads
Contact Random Reads
Search
Random House Struik
Random Reads
BLOG CATEGORIES
» Articles (40)
» Awards (8)
» Columns (26)
» Competitions (10)
» Extracts (6)
» Humour (5)
» Interviews (12)
» Recipes (19)
» Reviews (57)
» Videos (6)
BLOG ARCHIVES
» 2017 (0)
» 2016 (16)
» 2015 (4)
» 2014 (41)
» 2013 (53)
» 2012 (66)
REGULAR BLOGGERS
» Darrel Bristow-Bovey
» Warren Ingram
» Kobus Galloway

Heppie-heppie-heppie

Theunis Engelbrecht
Heppie-heppie-heppie

Malletjie Malan* sê hy kan nie meer aldag al die dinge glo wat in die wêreld aangaan nie. En dat hy sy sterre dank dat hy nie ’n akademikus, intellektueel, ’n professionele mens, ’n diep siel of ’n man met status is nie. Want dié van hulle wat Unisa-afgestudeerdes is, is pas weer gevra om deel te neem aan die universiteit se jaarlikse Happiness Index Survey for Alumni.

’n Pêl van Malletjie is een van die uitverkore pilare van die establishment wat nou die meningsopname moet voltooi en hy het vir hom gewys hoe dit werk. Eers is daar ’n tabel met die resultate van 2012 en 2013 se Happiness Index. Daar is nege onderafdelings: positive general mood, life spheres, satisfaction with life, general psychological wellness, subjective happiness, locus of control, perceived stress, overall standing in society: present, en overall standing in society: future. En dan is daar vier blokkies: donkergroen dui op very happy, liggroen op quite happy, geel op neither happy nor unhappy en oranje op unhappy.

It boggles the mind, sê Malletjie, vir iemand soos hy wat donkergroen is. Wat sou subjective happiness nou wees? En objective happiness? En wie gee hoegenaamd ’n kontintentale f-woord om oor sulke dinge? Om te wonder oor jou “overall standing in society: future” is genoeg om enige mens tot drank te dryf. Mense wat gepla is oor hul standing in society moet anyway hulle koppe laat lees en hul prioriteite regruk. En hoe is ’n mens as jy geel is? Hoeveel geel mense ken jy, en ken jy meer oranje as liggroen mense of andersom?

Op die eerste bladsy van die Happiness Index Survey 2014 is prentjies van ’n klomp figuurtjies: een met ’n glimlag waarop jy tande kan sien, een met ’n glimlag met toe lippe, een met ’n reguit streep vir lippe, een waarvan die lippe hang maar met die wenkbroue opgetrek, en een waarvan die lippe nog verder hang en die wenkbroue na onder getrek. Daar is ook figuurtjies waarvan die een lyk of daar weerligstrale in sy/haar lyf blits, een wat lyk of iemand op ’n simbaal slaan in sy/haar lyf, een wat lyk of daar roereier op sy/haar maag geklits word, een wat lyk asof hy/sy drie borshare het, en een wat net ’n naeltjie het. WTF.

Die aanwysings is: “These graphic characters represent you and your feelings. Indicate your immediate emotional reaction using all three rows. Click one button in each row for a total of three clicks. Don’t over-think it! Simply indicate your immediate reaction.”

Dit moet darem nie ’n grap wees om deesdae ’n navorser of ’n wetenskaplike of ’n sosioloog of ’n antropoloog of ’n sielkundige of so iets te wees nie, sê Malletjie – dié soort mense wat navorsingsdokumente en meningspeilings soos hierdie een vir die Happiness Index moet opstel. Die metodologie is om van te duisel, om van die fenomenologie nie eens te praat nie. Verstandsverbysterend verby. Kyk net na van die ander vrae in die survey: Have you been thinking of yourself as a worthless person? How often have you felt that you were on top of things? How often have you felt that things were going your way?

Dit is mos stupid om jouself so onder ’n vergrootglas te sit, sê Malletjie. Wat is die punt daarvan? Hy ken iemand wat skaam is en ’n ander een wat ’n dromer is wat daarvan hou om sulke soort opnames te voltooi en ontledings van hul persoonlikheidstipes en gemoedstoestande op die internet te doen. Uiteindelik is die skaam een in die proses wysgemaak dat hy ’n social anxiety disorder het en die dromer dat hy aan attention deficit disorder ly. Hulle is aanbeveel om psigoterapie te ondergaan en drink nou pille om van hulle sogenaamde disorders genees te word. 

Hierdie hele happiness-trippie is net ’n geldmaakmasjien, sê Malletjie. Dis deel van die sogenaamde fulfillment industry. Hulle twist jou kop om jou te maak glo jy is nie goed en slim genoeg nie, dat jy baie mooier kan lyk as wat jy is, dat jy ook stinkryk kan word, dat jy meer supersexy klere kan dra, dat jy jou erotiese kapitaal moet ontgin en hulle gee jou ook raad hoe om die korporatiewe leer dinamies en met selfvertroue te klim. Check maar al daai selfhelpboeke wat ’n mens kry. Wake Up Successful. The 7 Habits of Highly Effective People. How to be the Best. A New You. Blablabla. Dit help jou net van die wal in die sloot, want dit dwing jou om issues te maak van goed wat in die eerste plek nie issues sou gewees het as jy nooit voorheen daaraan gedink het nie. En wie het anyway issues nodig? ’n Sosiologiese navorser van Australië, professor Anthony Elliot, het gesê: “Many customers are now so obsessed with boosting their bodies and personalities that they end up suffering depression and emotional crisis. Some even kill themselves.”

Malletjie sê hy het so twee maande gelede in ’n koerant gelees dat daar ook ’n nasionale meningspeiling oor happiness in Suid-Afrika gedoen is. En meer as 80% van alle Suid-Afrikaners het gesê hulle is gelukkig. Dit is nie ’n stinkstorie nie, sê hy. Gaan google dit as julle hom nie glo nie.

So, as meer as 80% van die mense in die land gelukkig is, wat is dan die bleddie probleem? Volgens Malletjie het ’n mens nie baie dinge in die lewe nodig om happy te wees nie: lekker musiek en boeke, flieks, ’n kroeg, kuns, die natuur, vriende en slaap. Wat meer het jy nodig? Goed wat ’n mens beslis nié nodig het om happy te kan wees nie, is TV, groot blink karre, duur klere, politicians, meer geld, evangeliste, aansien in die status quo, megalomaniese popsterre, kleingeestige kollegas, ’n iPad, ’n iPhone, doemprofete, celebrities, die massamedia, intellectuals wat vir jou voorskryf wat om te dink, Oprah Winfrey, take-aways, oorsese vakansies, Facebook-vriende, Twitter-volgelinge, sigarette, drugs, pienk pilletjies, kultuuraktiviste, taalpuriste, Hollywood-blockbusters, kloosterkoeke, meningsvormers, thought leaders, religious zealots, fundamentaliste, ekstremiste, die korrektheidspolisie … As ’n mens só daarna kyk, is die aanslag van die daaglikse handel en wandel eintlik oorweldigend – en dan kan jy tog verstaan dat daar baie mense is wat nie happy is nie, mense wat nie anders kan as om te verkrummel onder die totale aanslag van vandag se wêreld nie. 

Ek hang altyd aan Malletjie se lippe. Hy sê as hy vir iemand moet raad gee wat om te doen as hy of sy in ’n oogwink wil happy voel, sal dit wees om na die webblad www.themetimeradio.com te gaan waar jy na honderd radioprogramme kan luister wat deur Bob Dylan aangebied word en wat elkeen oor ’n spesifieke tema handel. Van die temas is die weer, drank, koffie, die tronk, die huwelik, egskeiding, die somer, karre, blomme, die duiwel, radio, tyd, gewere, kos, vrouename, hare, skoene, treine, gekke, New York, death & taxes, laughter, spring cleaning, rook, hitte, koue, geld, die nag en oorlog. 

En die heel beste resep vir happiness wat hy ken, sê Malletjie, is: Vergeet van jouself. Hy het dit by die Amerikaanse skrywer Henry Miller geleer: “Develop an interest in life as you see it; the people, things, literature, music – the world is so rich, simply throbbing with rich treasures, beautiful souls and interesting people. Forget yourself.”

Dis so eenvoudig soos dit. Te hel met mense wat vir jou sê hoe jy moet voel en wat jy moet dink en wat jy mag doen en nie mag doen nie. Dan sal dit makliker wees om donkergroen te wees in plaas van oranje. Want as daar één ding is wat hy wat Malletjie Malan is weet, is dat jy nie kakkerlak-krummelkak moet opvreet van kapitalistiese knypgat-kapokhaantjies en al hul meelopers, meesmuilers en agterryers nie.

“Now put that in your pipe and smoke it…” 

 

*Nie sy regte naam nie om sy identiteit te beskerm. Theunis Engelbrecht se roman Papegaaislaai verskyn in Oktober by Umuzi.


Gallery is loading...
User Comments:
Re: Heppie-heppie-heppie - by Krimmel Pap
August 21 2014 17:14:08

Hai ! Ek no sommer Heppie !! 👍

Notify Me:
Please enter your email below to receive / un-subscribe from new post notifications.
Email Address:

Option:
Random House Struik Newsletter
Random House Struik Competitions
Random House Struik Bookclub
Random House Struik Events Random House Struik on Facebook
Random House Struik on Twitter
Random House Struik on Pinterest
 
Random Reads
Subscribe to our RSS Feeds