Random Reads Blog
About Random Reads
Contact Random Reads
Search
Random House Struik
Random Reads
BLOG CATEGORIES
» Articles (40)
» Awards (8)
» Columns (26)
» Competitions (10)
» Extracts (6)
» Humour (5)
» Interviews (12)
» Recipes (19)
» Reviews (57)
» Videos (6)
BLOG ARCHIVES
» 2017 (0)
» 2016 (16)
» 2015 (4)
» 2014 (41)
» 2013 (53)
» 2012 (66)
REGULAR BLOGGERS
» Darrel Bristow-Bovey
» Warren Ingram
» Kobus Galloway

Naghond se gedagte - Theunis Engelbrecht

Theunis Engelbrecht
Naghond se gedagte - Theunis Engelbrecht

Naghond se gedagte - Theunis Engelbrecht

Ek is een van daai mense wat gelukkig genoeg is om ’n naghond te wees. Ek verdien my brood snags wanneer die res van die wêreld snorkend soete drome droom. Nee, ek is nie ’n nagvlinder nie. (Nagvlinder, vir dié wat nie weet nie, is ’n ander Afrikaanse woord vir ’n prostituut.) Ek ry ook nie vuilgoed weg nie. Ek werk ook nie by ’n hospitaal se ongevalle-afdeling nie. Ek beman nie die telefoon by Lifeline nie. Ek bestuur nie ’n nagwa nie en gooi nie nagemmers uit nie. Ek is ook nie ’n nagwag nie. Of ’n foonsnol nie. Ook nie ’n bouncer by ’n nagklub nie.

Tog voel dit vir hierdie naghond op een of ander vreemde manier asof hy al hierdie soort dinge doen, al is dit dan figuurlik gesproke, omdat hy in die nagkantoor van ’n dagblad werk waar jy help om al die nuus van die dag wat verby is verpak te kry. Moord. Verkragting. Ontvoerings. Kapings. Rampe. Rooftogte. Korrupsie. Bedrog. Skokonthullings. Owerspel in Hollywood. Hond vreet hond (dis meestal die pitbulls wat die chihuahuas pak.) Bloed, derms, trane en ware lewensdramas. Na ’n paar jaar in ’n nagkantoor voel jy soos die ou in The The se Helpline Operator: “I smell the pain upon the breath of the lost and the lonely, I hear the thoughts that whisper in the hearts of all men.”

Iemand vir wie dit lekker is om te skryf, kan nie vra vir ’n beter plek om sy skamele genadebrood in die bitter sweet van sy aanskyn te verdien nie. As dit nie hiervoor was nie, sou Papegaaislaai nooit bestaan het nie. Want as ek nie ’n nagnuuswerker was nie, sou my pad nooit gekruis het met dié van Malletjie Malan*, die verteller in die boek, nie.

Een nag nadat ons ’n besonder bloederige dag klaar verpak het, het ek dringend ’n dubbelbrandewyn nodig gehad omdat die dag se nuusgebeure deur psigopatiese diktators, gierige geldwolwe en tienermassamoordenaars oorheers is. Ek het by ’n kroeg stilgehou. Dit was eenuur in die oggend. En daar het ek vir Malletjie op die lyf geloop. Toe hy hoor ek werk by ’n koerant, het hy my nadat die Christian Brothers-brandewyn en sambuca deeglik ingeskop het, ’n storie vertel wat my ore laat tuit het oor ’n skokkende skandaal in die Afrikaanse musiekbedryf wat toegesmeer is. Daarna het nog vele vrugbare ontmoetings gevolg en Papegaaislaai het daaruit voortgevloei. Malletjie het vertel en ek moes al die dokumentêre gegewens fiksionaliseer dat die slaaisous spat om te keer dat iemand hom sal wil donder of leed aandoen. Hierdie ontmoetings het gewoonlik net na nagskof plaasgevind.

Om ’n naghond te wees beteken nie dis ’n hondelewe nie, al word daar al hoe meer kaalgevrete beentjies na jou gegooi omdat die genadebroodkorsies begin opraak en elkeen vir sy stukkie skarrel. Ek het al baie nagnuuswerkers ontmoet wat eerder van die nagmerriekantoor praat en vir wie die nag nie meer kan toor nie. Goed, daar is tye daar wanneer ’n mens wonder hoekom mak honde die seerste byt, maar ’n mens kan darem ook nie grom-grom-grom en knor-knor-knor en njarrr-njarrr-njarrr deur die lewe gaan nie. Jy moet darem altyd nog lus wees om jou stert ook te swaai, anders is dit neusie verby met jou. Ek verwys die nagmerrienuushonde altyd na die heel beste stuk ooit wat oor die lewe in ’n nagkantoor geskryf is. Dis in Henry Miller se roman Tropic of Cancer en handel oor toe hy in 1932 ’n proefleser by die Paryse uitgawe van die Chicago Tribune was. Dit is die beste dwelm teen nagnuushondsdolheid.

“I must say, right at the start, that I haven’t a thing to complain about,” skryf Miller. “It’s like being in a lunatic asylum, with permission to masturbate for the rest of your life. The world is brought right under my nose and all that is requested of me is to punctuate the calamities.”

En ’n entjie verder: “They have a wonderful therapeutic effect upon me, these catastrophes which I proofread. Imagine a state of perfect immunity, a charmed existence, a life of absolute security in the midst of poison bacilli. Nothing touches me, neither earthquakes nor explosions nor riots nor famine nor collisions nor wars nor revolutions. I am inoculated against every disease, every calamity, every sorrow and misery. It’s the culmination of a life of fortitude.”

Al is jy ’n naghond, beteken dit nie jy hoef saam met die honde te blaf en die wolwe te huil nie, al moet jy partykeer slapende honde wakker maak. Jy kom agter dat ’n geblaf inderdaad ook byt kan hê. Henry Miller leer ’n ou hond altyd nuwe trieks. Jy begin al hoe minder vir die volmaan huil, al kry jy nooit ’n antwoord op jou vraag of dit regtig waar is dat elke naghond sy nuwe dag kry nie.

Miller skryf verder: “None of my companions seem to understand why I appear so contended. They grumble all the time, they have ambitions, they want to show their pride and spleen. A good proofreader has no ambitions, no pride, no spleen. A good proofreader is a little like God Almighty, he’s in the world but not of it. He’s for Sundays only, Sunday is his night off. On Sundays he steps down from his pedestal and shows his ass to the faithful. Once a week he listens in on all the private grief and misery of the world, it’s enough to last him for the rest of the week. The rest of the week he remains in the frozen winter marshes, an absolute, an impeccable absolute, with only a vaccination mark to distinguish him from the immense world.”

Of die nag kan toor, hang van jouself af. As jy net giftige nagadders sien, sal simsalabim net mooi fokol vir jou help. Maar as jy dit kan regkry om eerder saam met die nagape in die piesangbome van die republiek uit te hang en weg te bly van die nagrotte, kan die nag inderdaad toor. Kyk maar wat het gebeur toe Malletjie asof uit die niet uit ’n newel in die kroeg aan my verskyn het. So iets sou nooit in die dag kon gebeur nie.

Dit was ’n avontuur om die storie te skryf wat hy in my oor gefluister het. Hy het my geleer as jy ’n naghond is, sal daar solank daar kroeë is waar jy in die diepste donkerte van die nag kan brandewyn drink altyd bloed te ruik wees op die horison, donker geheime wat uitgesnuffel word en dinge wat jy nie in jou wildste drome gedink het moontlik is nie. Soos die skokkende onthullings wat Malletjie gemaak het en waarvan in Papegaaislaai vertel word.

Nou gaan ek ’n dop drink op Henry Miller en Malletjie Malan, die ware towenaars van die nag. Cheers.

*Nie sy regte naam nie om sy identiteit te beskerm. Papegaaislaai is dokumentêre fiksie. Dit verskyn in Oktober by Umuzi.


Gallery is loading...
User Comments:
Re: Naghond se gedagte - Theunis Engelbrecht - by Nagster op Pensioen
June 24 2014 11:59:57

En ek gaan drink nou 'n dop op jou, jou blog en jou Papegaaislaai. En op Henry Miller, for that matter.

Re: Naghond se gedagte - Theunis Engelbrecht - by Faan Herholdt
June 24 2014 14:48:16

Veels geluk met topklas-skryfwerk. Jou boek gaan 'n fees wees.

Re: Naghond se gedagte - Theunis Engelbrecht - by Gee
June 24 2014 21:04:20

Lekker blog. Nou lus ek sommer ook vir 'n dop of drie. Ek sien uit na jou boek. Klink na groot pret wat selfs my sal skok.

Re: Naghond se gedagte - Theunis Engelbrecht - by Deborah Steinmair
July 11 2014 13:01:32

Ek love you Theunis en alles wat jy skryf. Sien baie uit na Papegaaislaai.

Re: Naghond se gedagte - Theunis Engelbrecht - by Clarabelle van Niekerk
September 24 2014 07:50:11

Jou nuwe boek Papegaaislaai is fenominaal!!!!! Pik pappegaai met sy blou vlerke gaan binnekort hoog vlieg!
Dit is briljant geskryf. Jy is die genius nagwag wat alles sien!!!
Laat die Klokke lui!!!!!!!XXXXXX

Notify Me:
Please enter your email below to receive / un-subscribe from new post notifications.
Email Address:

Option:
Random House Struik Newsletter
Random House Struik Competitions
Random House Struik Bookclub
Random House Struik Events Random House Struik on Facebook
Random House Struik on Twitter
Random House Struik on Pinterest
 
Random Reads
June 2016 | May 2016 | April 2016 |
Subscribe to our RSS Feeds